Nuwe vooruitsigte (Afrikaans)

Julie Hardy

Die pyn van jare se misbruik het verdwyn toe Julie Hardy, God in haar lewe ingenooi het.

"Ek wil graag met julle deel hoe 'n mens se lewe permanent kan verander as jy God toelaat om dit te doen. Dit het met my gebeur en dit is ook moontlik in jou lewe," sê Julie.

Haar herinneringe aan haar kinderdae is van 'n tyd toe sy baie gou moes grootword as gevolg van haar huislike omstandighede. Sy moes na haar drie jonger broers en susters omsien, omdat haar ma alkohol misbruik het, gereeld ineenstortings gehad het en aggressief was.

"Na my ouers geskei is, is ek in pleegsorg geplaas. Ek is vir 'n hele paar jaar van die een na die ander plek toe geskuif totdat ek uiteindelik op straat beland het, waar ek van ouderdom 14 tot sestien gebly het," onthou sy.

"Op daardie tydstip van my lewe het ek geglo dat niemand omgegee het vir my emosionele toestand nie en my selfvertroue was daarom heeltemal teen die grond."

Teen die tyd dat Julie 16 jaar oud was, was sy vasgevang in 'n afbrekende verhouding waaruit sy geen wegkomkans gesien het nie.

"Dit het uiteindelik daartoe bygedra dat die welsyn my kinders weggevat het. Sonder my kinders het ek net nog meer verslae gevoel, veral omdat ek geen familie ondersteuning gehad het nie. Dit het letterlike gevoel asof my lewe op sy heel laagste punt was," verduidelik sy.

"Ek was egter verkeerd, want dinge het in die volgende paar jaar net nog verder agteruit gegaan. My pa het onder 'n trein beland en ek moes sy liggaam na die tyd gaan uitken. My broer is dood nadat hy deur wilde honde verskeur is. Ek het 'n dierbare vriend verloor wat na 'n ernstige beroerte nooit weer herstel het nie. Hy was 'n vaderfiguur vir my toe ek op straat was.

"Dit het my geheelenal desperaat gemaak en my aan selfmoord laat dink. Ek het gevoel asof daar niks meer in die wêreld oor was om voor te leef nie."

Sy het in 2000 saam met die man met wie sy in 'n verhouding was na 'n ander dorp toe getrek. 'n Paar maande later het sy genoeg moed bymekaar geskraap om hom te verlaat.

Julie het in 2013 van 'n nuwe kerk in haar omgewing gehoor. Sy het kort daarna ook vir Dave en Claire, die predikante, ontmoet.

"Ek het as kind kerk toe gegaan, maar het nooit regtig die idee van godsdiens verstaan of hoe dit jou lewe kan verander nie," vertel sy.

Dave en Claire het Julie help verstaan wie Jesus is en wat die nuwe lewe is wat sy kon ervaar as sy haar geloof en vertroue in Hom as Here en Verlosser van haar lewe plaas.

"[Dave en Claire] het saam daaraan gewerk om my van die kettings te bevry wat my gebind het," verduidelik Julie.

"Ek het die Heilige Gees soos asof die hitte van 'n vuur van kop tot tone deur my voel beweeg. Al my laste het verdwyn en ek het onmiddellik 'n groot vrede ervaar. Die krag van die Heilige Gees het my oë en my hart oopgemaak en ek is geestelik weergebore. Ek sien die wêreld nou op 'n mooi en vars manier. Ek weet nou dat solank as wat jy God in jou lewe het, daar hoop is."

Julie sê dat die pyn en al die dinge wat haar in die verlede bekommer het, haar deesdae glad nie meer affekteer nie.

"My uitkyk op die lewe het so verander sedert ek my lewe aan God gegee het; ek sien nou uit na die lewe. Die lewe het egter nie net vir my verander nie, maar ook vir my lewensmaat en kinders, wat saam met my ons plaaslike kerk bywoon. Ons sien uit na 'n wonderlike lewe saam met God in die kerk."

<< Changed outlook
Ukunqoba usizi Iwesizungu (Zulu) >>