Aborsie nie die antwoord nie (Afrikaans)

Joy Thindwa
Joy Thindwa

Toe Joy Thindwa op die ouderdom van 18 swanger geraak het is sy aangeraai om 'n aborsie te ondergaan, maar God het egter ander planne gehad.

"Dinge was baie moeilik op daardie stadium van my lewe, want ek was nog op skool toe ek swanger geraak het en my kêrel wou nie gehad het dat ek die baba moes hou nie," sê Joy.

Hoewel Joy kerk toe gegaan het toe sy nog jonger was, het sy 'n keuse gemaak om haar lewe op haar eie manier te leef. Sy het daarom besef dat sy met die gevolge van haar ongehoorsaamheid aan God sou moes saamleef nadat sy saam met 'n man geslaap het waarmee sy nie getroud was nie.

"Toe ek ongeveer 15 jaar oud was het die pastoor by my gesin se kerk vir my verduidelik wie Jesus is, maar ek het Hom nie op daardie stadium my Here en Verlosser gemaak nie," erken sy.

"In plaas daarvan het ek verkies om voort te gaan om my lewe op my eie manier te leef."

Gevolglik het Joy op die ouderdom van 18 by die dokter se spreekkamer gesit en wag, gereed om die baba binne-in haar te aborteer, omdat sy gedink het dat sy nie in staat sou wees om vir haar kind voorsiening te maak nie.

"Ek het baie skuldig begin voel toe die dokter verduidelik het dat die prosedure onomkeerbaar was as dit eers afgehandel is, met ander woorde, dat ek nooit weer my baba sou sien nie," onthou Joy.

"Ek kon aanvoel dat hy baie bekommerd was en dat hy nie regtig wou hê dat ek met die aborsie moes voortgaan nie."

Dit het tot Joy deurgedring dat sy verkeerd opgetree het toe sy by haar kêrel geslaap het en dat dit nog meer verkeerd sou wees om die kind in haar skoot dood te maak.

"Ek het geweet dat dit noodsaaklik was om God se vergifnis in gebed te vra en volgens die bybelse waarhede te leef, in plaas daarvan om op my eie manier te leef," sê Joy.

Dit was op daardie stadium wat sy uiteindelik beheer van haar lewe aan God oorgegee het en op Hom begin vertrou het vir hulp.

"Ek het my baba gehou en 'n gesonde seuntjie in die lewe gebring," sê Joy met 'n glimlag.

"God het so getrou vir ons altwee voorsien sedert sy geboorte. Ek is baie dankbaar dat Hy my selfs gehelp het om sy skoolgeld te betaal. My seun is baie intelligent en wil eendag 'n dokter word. God is goed vir ons en ek is so bly dat ek op Hom vertrou het!"

Joy sê sy leef nie altyd soos God van haar verwag nie, maar is dankbaar dat Hy 'n God van vergifnis is en dat Hy haar lei om beter keuses te maak wanneer sy op Hom vertrou.

<< Ukukhipha isisu akusona isixazululo (Zulu)
Kubvisa pamuviri haisi iyo mhinduro (Shona) >>